ARTIKEL: DIE MAKANA-UITSPRAAK - ‘N SKRAAL NUWE DAERAAD VIR PLAASLIKE OWERHEDE?

2020 opt

Die skokkende toestand van plaaslike owerhede se finansies en dienslewering is welbekend. Die 2019-verslag van die Ouditeur-Generaal oor die stand van plaaslike owerhede se finansies het aangetoon dat meer as ‘n derde van die 257 munisipaliteite en 21 munisipale entiteite disfunksioneel is en dat slegs 8% ‘n skoon oudit ontvang het (teenoor 14% in 2016/17). As mens in die veral die noorde van die land in die platteland reis, is die verval van kleiner dorpe in terme van onderhoud van paaie, water en riool opsigtelik. Standerton (Lekwa) was laasjaar in die nuus toe die munisipaliteit, wat net ‘n paar kilometer van die Vaalrivier en die Grootdraai-dam is, nie in staat was om water aan die aanleg van Astral Foods kon voorsien nie.

 

In Januarie vanjaar het ‘n belangwekkende uitspraak van die Hoogeregshof in die Oos-Kaap die fokus weer op die gebrek aan dienslewering deur plaaslike owerhede laat val. Die Unemployed Peoples Movement, ondersteun deur ‘n koalisie van burgerlike organisasies in Makana (voorheen Grahamstad), het die hof ingevolge artikel 172 van die Grondwet genader en gevra dat die Hof bevind dat die munisipaliteit sy grondwetlike pligte teenoor die inwoners van die dorp versuim het (ingevolge artikel 152 van die Grondwet) en dat die provinsiale regering verplig word om (weer) in te gryp - ingevolge artikel 159 van die Grondwet. Die speerpunt van die aansoek berus op die versuim van Makana om te keer dat riool in die strate loop.

Daar is ‘n hele aantal tegniese aspekte in die uitspraak. Een daarvan is of die regte artikel wat die Unemployed Peoples Movement gebruik het, artikel 139(1) is waarvolgens die provinsiale regering die munisipale raad moetontbind en of dit eerder artikel 139(5) moet wees waar die provinsiale regering die munisipale raad kan ontbind. Uiteindelik bevind regter Igna Stretch dat daar reeds in 2015 ‘n artikel 139(5) intervensie plaasgevind het wat gefaal het omdat die munisipale raad dit òf vertraag òf verhoed het. Daar was ook twee administrateurs aangestel, sonder enige veranderings in die dienslewering aan inwoners. Die munisipale raad en provinsiale regering kon nie ‘n enkele stap aantoon wat die munisipaliteit geneem het om die situasie te verbeter nie. 

Die hof bevind dus dat die versuim van die Makana Munisipaliteit om (onder andere) aan die gemeenskap volhoubare dienste te lewer, om ‘n veilige en gesonde omgewing te bevorder, en om sy administrasie, begroting en beplanningsprosesse ordentlik te struktureer, in botsing met artikel 152(1) en 153(a) van die Grondwet is en daarom ongeldig verklaar word. Die hof verklaar verder dat daar voldoende  reggronde is vir ‘n verpligtende ingrype deur die provinsiale regering en beveel diè regering om die munisipale raad onmiddelik te ontbind en ‘n administrateur aan te stel totdat ‘n nuwe raad verkies is. ‘n Herstelplan vir die munisipaliteit se vermoë om sy diensleweringspligte en finansiële verpligtinge na te kom, moet geïmplementeer - met inagneming van die 2015-plan (wat nooit geïmplementeer is nie).  

Beide die munisipale regering en die provinsiale regering het aangetoon dat hulle teen die besluit van die hof gaan appèleer, en daarom het die ontbinding van die munisipale raad en ander optredes nog nie plaasgevind nie. Die burgermeester van Makana het intussen aan die media gesê dat as die besluit staan, alle plaaslike owerhede in die Oos-Kaap sal moet bedank, omdat “almal in dieselfde posisie is”. Dit is opsigself ‘n tragiese uitspraak en ‘n harde oordeel oor nie net plaaslike regerings in die Oos-Kaap nie, maar ook oor die provinsiale en nasionale regering.

Wat is die gevolge vir plaaslike owerhede indien die appèl van die hand gewys word en die uitspraak staan?

Op regsvlak sal dit bevestig dat die howe ‘n plig het om toe te sien dat plaaslike owerhede hulle grondwetlike verantwoordelikhede teenoor burgers nakom, en dat indien dit nie gebeur nie en munisipaliteite na herhaaldelike pogings steeds daarin faal, die provinsiale regering beveel kan word om die munisipaleraad te ontbind en ‘n nuwe raad te laat verkies. Regter Stretch het bevind dat dit nie ‘n oorskreiding van die magte van die hof of die beginsels en skeiding van magte tussen die regsprekende en uitvoerende gesag is nie as die hof bevind dat ‘n uitvoerende arm van regering nie sy grondwetlik gemandateerde werk gedoen het nie. Hierdie uitspraak kan die regsposisie van disfunksionele munisipaliteite omkeer.

Op politieke vlak kan dit ‘n omwenteling van plaaslike owerhede teweegbring. In plaas van om vir vyf jaar vasgevang te wees in die disfunksionele kloue van ‘n spesifieke party, sal inwoners die regstelsel kan gebruik om ‘n nuwe verkiesing af te dwing, en dalk ‘n ander party te verkies. Dit is interessant dat die Makangemeenskap besig is om ‘n alliansie van organisasies in ‘n party te omskep wat die moontlike nuwe verkiesing in Makana kan beveg. As die Makana-uitspraak staan, kan dit ook gevolge vir ander munsipaliteite in die 2022 se plaaslike owerheidsverkesings hê. Daar is reeds aanduidings dat ander gemeenskappe in die Oos-Kaap dieselfde paadjie na die Hooggeregshof wil loop. 

Die hofuitspraak was egter ook ‘n sydelingse klap na die provinsiale regering, wie se reaksie op die Makanakrisis sterk deur die regter gekritiseer het. Sy skryf dat ‘n versoek vir ‘n intervensie van die gemeenskap deur “stilte” begroet is. “Geen erkenning van ontvangs, geen reaksie, geen optrede nie.” ‘n Mens moet die vraag vra: hoe kan ‘n disfunksionele plaaslike owerheid deur ‘n ewe disfunsksionele provinsiale owerheid onder administrasie geplaas word?  En hoe kan mens onder hierdie omstandighede beter resultate verwag? 

Vir verkose politieke leiers sal dit ‘n duidelike boodskap stuur dat hulle nie maar ‘n vet salaristjek kan trek en niks verder doen nie. Hulle kan hulle poste en  voordele verloor as hulle nie dienslewering aan die gemeenskappe eerste stel nie. Uit die hofstukke is dit duidelik dat op beide plaaslike en provinsiale vlak, die ANC-politici ‘n verstommende apatie het teenoor dekadelange diensleweringsprobleme. Die hofsuitspraak behoort vir hulle ‘n duidelike riglyn te stel om hulle verantwoordelikhede as gekose openbare verteenwoordigers van die mense ordentlik te begin nakom.

Op administratiewe en bestuursvlak sal die uitspraak ook gevolge hê. Die Makanasage het weereens bevestig dat daar ernstige en strukturele krisisse op plaaslike owerheidsvlak bestaan. Om ‘n administrateur aan te stel, maar die disfunksionele en soms teensinnige raad in plek te hou, het duidelik nie in Makana (en waarskynlik ander munisipaliteite) gewerk nie. En vir die administrateurs om slegs ‘n nuwe verslag te skryf oor wat nog gedoen moet word, het ook geen effek gehad nie. En om, soos die provinsiele regering probeer doen het, slegs geld of opleiding na die probleme te gooi, het ook nie die gewensde uitwerking gehad nie. Die vraag is of ‘n disfunksionele munisipaliteit met disfunksionele bestuurders en personeel funksioneel gemaak kan word? Bestuur en personeel kan slegs deur ‘n verantwoordelike munisipale raad vervang word. Maar dit het op min plekke (indien enige) gebeur - waarskynlik omdat administrateurs ook maar net ANC-kaders is. Baie kommentators skryf hierdie toestand toe aan die politieke en finansiële voordele wat ‘n raadsetel en ‘n bestuurspos inhou. Die verantwoordelike politici sal hieroor verder moet dink. Miskien moet ‘n administrateur wat aangestel word, spesifiek die magte kry om van oneffektiewe en halstarrige personeel ontslae te raak. Anders sal ‘n herstelplan nooit geïmplementeer kan word nie.

Indien van die munisipaliteite wel omgedraai kan word, kan dit baie positiewe sosio-ekonomiese gevolge hê. ‘n Munisipale raad behoort ‘n fasiliteerder van plaaslike ekonomiese ontwikkeling te wees. Dit moet infrastruktuur, dienste en ‘n stabiele omgewing voorsien vir plaaslike besighede om te belê, te produseer en werkgeleenthede te skep. Daarsonder trek besighede weg. En wanneer dit gebeur, word voorheen sterk landelike dorpe, slegs “kampongs” waar mense ‘n sukkelbestaan voer en elders (die groter dorpe of stede) vir werk moet gaan soek. 

Dit is interessant en miskien belangrik dat, alhoewel die minister van finansies en die President as respondente betrek is, hulle nie die aansoek van die Unemployed Peoples Movement teengestaan het nie. Dit mag slegs op regsgronde wees, maar miskien besef hierdie twee ampsdraers dat iets drasties gedoen moet word om plaaslike regering te red en is hulle van mening dat hierdie grondwetlike pad een deel van die oplossing kan wees. 

Die Makana-uitspraak is ‘n goeie voorbeeld van die Grondwet-in-werking. Dit gee hoop om ‘n meganisme daar te stel om wanfunksionele munisipaliteite te ontbind, om te draai en dienslewering weer op ‘n aanvaarbare vlak te kry. Dit is dalk ‘n skrale daeraad vir mense wat op die platteland in die donkerte van moedeloosheid sit.

Theuns Eloff is voorsitter van die Adviesraad van die FW de Klerk Stigting
17 Maart 2020 

*Eers op Netwerk 24 gepubliseer

Kontak Ons

phone

FOON: +27 (0) 21 930 36 22
FAKS: +27 (0) 21 930 38 98

email E-POS: 
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
address FISIESE ADRES:
Zeezicht-gebou, Tygerberg Park, 
Uys Krige-rylaan 163, Plattekloof, 
Kaapstad, 7500, Suid-Afrika
  POSADRES: 
Posbus 15785, Panorama, 7506, Suid-Afrika

Teken in op ons Nuusbrief

Newsletter

Bly op hoogte van ontwikkelinge wat die Grondwet kan affekteer, met inbegrip van konsepwetgewing.